Afrikaans

Vanuit Wikiquote
Spring na: navigasie, soek

Afrikaans is 'n taal soortgelyk aan Nederlands wat veral in Suider-Afrika gepraat word.

Aanhalings[wysig]

  • 'n Gebruik bestaan onder ons hele nasie, waar die binnelandse mense die Nederlandse taal aanleer, dat hulle dit op 'n baie krom en onverstaanbare wyse uitspreek, wat meebring dat ons hulle daarin navolg, sodat ons Nederlandse kinders ook hierdie gebruik aanvaar, en die grondslag gelê word vir 'n gebroke taal wat met verloop van tyd onuitwisbaar sal wees. Nog minder sal dit ons geluk om die Nederlandse taal onder die Hottentotbevolking in te voer, wat nietemin geen gebrek aan vermoë toon om die woorde korrek uit te spreek nie, sonder 'n fout, indien jy die moeite sou doen om sorgvuldig aan hulle voor te sê nie, iets waaraan ons tog meer aandag behoort te skenk.
  • Die taal van die landelike mense is so weinig suiwer Nederlands as wat die taal van Duitse boere suiwer Duits is. Die mans het 'n baie oordrewe spraak en die vrouevolk het uitdrukkings aangeneem wat by geleentheid werklik verregaande is.
    • Otto Friedrich Mentzel in Vollständige geographische und topographische Beschreibung des ... afrikanischen Vorgebirges der Guten Hoffnung (1785–1787), aangehaal in Afrikaans en sy Europese Verlede, E. H. Raidt, pp. 149–150, 1980, ISBN 0625014421. Direk hierop haal Mentzel 'n voorbeeld van hulle geaffekteerde grammatika aan wat 'n neiging na Afrikaans openbaar.
  • Hy het sy moedertaal byna volkome verleer en die verminkte Hollands van die koloniste gepraat.
    • Martin Lichtenstein in Reisen im südlichen Afrika II (1803–1806), p. 151, met verwysing na die Duitse botanis J. A. Auge wat hom in die Kaap gevestig en die voertaal aanvaar het.
  • Die taal van die Kaap! ... Asof die ellendige brabbeltaal, wat die voertaal van hierdie land is, enigsins die naam van taal waardig is. ... Die gebrekkige uitdrukkingskrag in hierdie broutaal is sodanig, dat ons enige persoon uitdaag om daarin uitdrukking te gee aan gedagtes wat enigermate uitstyg bo die louter ordinêre ... Daar kan geen literatuur bestaan in so 'n taal nie, want arm soos dit is, is dit kwalik 'n geskrewe taal ... Laat vaar dan julle taal en julle nasionaliteit, en glo ons, julle hoef nie te vrees vir julle geloof nie.
    • Redaksiestuk in The Cape Argus, 19 September 1857, 'n beroep vir uitwissing van die "gruwelike voertaal van die Kaap", die nasionaliteit waaraan dit verbonde sou wees, en die vervanging daarvan met Engels, aangehaal in Afrikaans en sy Europese Verlede, E. H. Raidt, p. 212, 1980, ISBN 0625014421
  • Julle praat nie Nederlands, dit wil sê die suiwer ou Hollandse spreektaal nie, en nog minder sou julle jul lippe bevuil met die patois van die Hottentotte om ons. Ek is seker ek gee geen aanstoot as ek sê, dat julle julle gedagtes uitdruk op 'n wyse wat nie op julle kansels erken word nie, nié in julle wetboeke gelees word nie, nié in julle wetenskapfolios figureer nie, en nog minder erken word as 'n taal van 'n verligte nasie, want dit verskaf nie 'n behoorlike woordeskat vir die laagste straatvolk, of vir die hoogste hoëlui nie ... Dit is een wat besig is om julle en julle kinders onberekenbare skade te berokken. Dit vereng julle gedagtes. Dit knel julle energie. Dit laat elke beleefde vrou bloos, en te dikwels laat dit opgevoedes in afsku terugdeins. Dit korrupteer die sedes van julle kinders, en besoedel hulle onskuldige uitdrukkings ...
    • The Cape Monitor, 14 Oktober 1857, aangehaal in Afrikaans en sy Europese Verlede, E. H. Raidt, p. 212, 1980, ISBN 0625014421
  • ...'n aantal grapmakers naby Kaapstad [wat beplan het] om die 'plat Hollands' van die straat en kombuis as 'n geskrewe taal neer te pen, en dit wou perpetueer. Hulle het hulle grap goed gebesig. Hulle het 'n koerant gehad, 'n geskiedenis van die Kolonie saamgestel, 'n almanak, en om die grap te kroon – 'n grammatika.
    • Die Engelse pers van Kaapstad hekel die GRA, 1876, aangehaal in The Genesis of Afrikaans, deur Achmat Davids, in Afrikaans Literature: Recollection, Redefinition, Restitution, p. 49, 1996, Robert & Ethel Kriger
  • [Hulle] wat ... geen uitweg sien om die taal van Holland te onderhou, of eerder, te herstel onder die menigte ou Koloniste nie, sou Engels probeer uithou deur die voer- en broutaal van die laagste Hottentotte die taal van hierdie mense, en selfs Suid-Afrika te maak.
    • The Cape Argus, 19 September 1877, lewer kommentaar op die GRA en hulle aanhangers, aangehaal in The Genesis of Afrikaans, deur Achmat Davids, in Afrikaans Literature: Recollection, Redefinition, Restitution, p. 56, 1996, Robert & Ethel Kriger
  • Die beskerming van ons Landstaal moet hoofsaak wees van so 'n Bond, want taal en nasie es een, en di wat dit ni tot doelwit stel ni, moet liewers ni lid worde van ons bond ni
    • S.J. du Toit van die GRA omtrent die Afrikaner Bond party, c. 1881, wat C.J. Rhodes in sy geledere sou insluit, aangehaal in The Genesis of Afrikaans, deur Achmat Davids, in Afrikaans Literature: Recollection, Redefinition, Restitution, pp. 55–56, 1996, Robert & Ethel Kriger
  • Vir intellektuele opvoeding is Afrikaner Nederlands geen aanwins nie, want dit beskik oor geen literatuur nie, en het 'n baie beperkte woordeskat. Vir interne diskoers en as 'n handelsmedium is Engels die meerdere daarvan, en in buitelandse handel is dit sonder aansien.
  • Hoe lank sal ons hink op twee gedagtes? As Nederlands ons taal is, waarom praat ons hom nie? As Afrikaans ons taal is, waarom skryf ons hom nie?
  • Van Langenhoven. Provinsiale Raad het my mosie aangeneem wat Afrikaans toelaat als permissiewe medium tot en met die 4e standaard.
    • C.J. Langenhoven in 'n telegram aan sy eggenoot op 23 April 1914, wat ook in Het Zuid-Westen, sy koerant in Oudtshoorn gepubliseer is, aangehaal in J. C. Kannemeyer, 1995, pp. 296–7. Hiermee het Afrikaans amptelike status in die Kaap ontvang as onderrigmedium in die eerste ses skooljare, om effektief Nederlands in hierdie opsig te vervang. Die Christengemeenskap in Genadendal en die Moslemgemeenskap van die Dorpstraat-madrasa, Kaapstad, het egter reeds baie jare tevore Afrikaans as 'n onderrigmedium benut.
  • ... 'n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika ... Ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sal maak van hierdie glansende werktuig ...
  • Was dit nie dat Afrikaanse literatuur wit oorheersing verheerlik nie, en was dit nie vir die onuitspreeklike boosheid wat hierdie literatuur uitadem nie, kon mens dit eenvoudig afwys as sinneloos, 'n dodende verveling.
    • Es'kia Mphahlele, 1974, The Function of Literature at the Present Time: The Ethnic Imperative.
– Literatuur in die etos van Boerneef, 1938, Boplaas, sou hier bedoel word, wat die gekleurde karakters daarvan sou uitbeeld as "gedienstige lyfeienes" in 'n "feodale orde", terwyl vorige kritici niks meer as 'n "natuurlike hierargie" of "idille" onderskei het nie.
cf. Jakes Gerwel, 1983, Literatuur en Apartheid. Gerwel wys soortgelyke sentimente uit in Mphahlele, 1962, The African Image, p. 107.
cf. Godfrey Meintjes, 1995, Re-viewing the Past: Notes on the Rereading of Canonized Literary Texts, Rhodes Universiteit
cf. Ampie Coetzee, Afrikaans Literature in the Service of Ethnic Politics?, in Afrikaans Literature: Recollection, Redefinition, Restitution, p. 103, 1996, Robert & Ethel Kriger
  • Sal Afrikaans die Afrikanerryk oorleef?
    • Jakes Gerwel in 1975, aangehaal in Sêgoed met slaankrag: 3 000+ van die slimste, snaaksste en soms onnoselste Suid-Afrikaanse aanhalings, George Claassen, ISBN 0624063194
  • Ongelukkig het Afrikaans sekere historiese konnotasies verwerf wat gelei het tot die verwerping daarvan deur die swartman, en dit is naamlik politieke konnotasies.
    • Steve Biko (1946–1977) aangehaal in Sêgoed met slaankrag: 3 000+ van die slimste, snaaksste en soms onnoselste Suid-Afrikaanse aanhalings, George Claassen, ISBN 0624063194
  • En Afrikaans, hierdie kind van die bodem van Afrika, het reeds 'n werktuig vir miljoene mense geword – ja, vir meer as net die Afrikaner ... God se plan daarteenoor, was die skepping van 'n ander beskawing met 'n nuwe taal uit Afrika ... Afrikaans en hierdie pragtige suidelike land is onbetwisbaar aan mekaar verbind.
  • Afrikaans is 'n taal wat uit die bodem van Suid-Afrika gegroei en ontwikkel het, gevoed deur die verskeidenheid van tale en kulture in ons land, gewortel in die soeke na eie identiteit en vryheid. Sy krag en hoop op die toekoms was nog nooit spesiale bevoorregting nie; maar as een van die tale van Suid-Afrika wat skouer aan skouer tesame met die ander tale met respek en gelyke regte die toekoms tegemoet moet gaan.
  • ...argitek Jan van Wijk se merkwaardige 1975-gedenkteken vir een van die wêreld se lelikste tale is, indien niks meer nie, nuttig as 'n uitstekende piekniekplek op pad na die wynlande van Franschhoek en Stellenbosch.
    • Bronwyn Davies of redakteur Richard Cook, in Wallpaper, September 2005
  • Dit is hoekom Afrikaans-eksklusiewe of selfs Afrikaans-dominante wit skole en universiteite 'n ernstige bedreiging inhou vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika. Jy kan eenvoudig nie jongmense voorberei om die littekens van ons geweldadige verlede te hanteer sonder om optimale geleenthede te skep in die opvoedkundige omgewing vir gemengde leer- en leefwyses nie.
  • 'n Taal wat nie 'n kommersiële waarde het nie, sterf.
    • Willie Hofmeyr van Nasionale Pers, aangehaal in Sêgoed met slaankrag: 3 000+ van die slimste, snaaksste en soms onnoselste Suid-Afrikaanse aanhalings, George Claassen, ISBN 0624063194
  • Die jeugkultuur gryp die jong taal aan sy voorhuid en gee dit sy eerste demokratiese klimaks!
    • Pieter-Dirk Uys aangehaal in Sêgoed met slaankrag: 3 000+ van die slimste, snaaksste en soms onnoselste Suid-Afrikaanse aanhalings, George Claassen, ISBN 0624063194