Sarel Cilliers

Vanuit Wikiquote
Portret van Sarel Cilliers deur 'n onbekende kunstenaar

Sarel Cilliers (7 September 1801 – 4 Oktober 1871) was 'n voortrekkerleier, en is bekend vir die Gelofte wat voor die Slag van Bloedrivier afgelê is.

Aanhalings[wysig]

  • ... ek het in my swakheid voldoen aan die begeerte van al die amptenare, ook wis ek dat die meerderheid burgers daarvoor was. ...op 'n kanonwa [is die gelofte voorgedra] ... op 'n eenvoudige wyse so plegtig as die Heer my daartoe in staat gestel het.
    • Cilliers in sy Journaal, rakende die Gelofte wat elke dag van 9 tot 15 Desember 1838 afgelê is, toe die Zoeloe-impi reeds in sig was
  • ... hy het 'n leersak om een skouer gehad, wat hy steeds gedra het en waarin hy sy dokumente gehad het, insluitend die onderhandelingstraktaat van die heer Retief met Dingaan, die omskrywing van die grond – dit was vir ons almal 'n wonder om te sien, aangesien die liggame reeds so lank daar gelê het, en aangesien die papiere nog so onbedorwe en skoon was …
    • Vrye vertaling van Cilliers se herinnering aan die opsporing van die oorskot van die Retief-geselskap op 23 Desember 1838, meer as 10 maande na die moorde, soos weergegee in sy Journaal en aangehaal deur G.B.A. Gerdener in Sarel Cilliers, die Vader van Dingaansdag, Kaapstad, 1919, p. 104.
  • In die Hantam het ek 'n Hoogduitse Gesangboek gesien, die eiendom van ene Fredrik Snyder, waarin baie Gesange opgeneem is wat ook ons kerkgesange is. Die boek was in Hoogduits en reeds 300 jaar oud!! Nou spyt dit my tog dat ons vertalers nie die outeurs, menend die digters van die liedere, by name vermeld nie, nóg die skrifverwysings, aangesien dit wel in die boek van Fredrik Snyder staan uit welke hoofstuk die lied geneem is; sou dit in ons Gesangboek ook so gedoen gewees het, dan dink ek dat daar nie 'n dwaling sou wees soos wat tans plaasvind nie. Ek kan bevestig dat Calvyn 25 of 27 van die gesange gedig het. Ons sê ons is Calviniste of Gereformeerd, maar as ons die werk van Calvyn verwerp, wat is dan ons geloof?
    • Cilliers rakende die Hervormde Kerk, aangehaal in die Staats Courant, Potchefstroom, 22 April 1859. Kyk ook: Boustowwe vir Kerkgeskiedenis deur Dr. G.B.A. Gerdener (1929), p. 667
'n 1938-filmuitbeelding van Cilliers se voordrag van die Gelofte
  • Moroka en ook u vader Moshesh sou bevestig in welke toestand hulle verkeer het op die tydstip toe ons die Oranjerivier deurtrek het – hoe ons 'n muur van beskerming om hulle gevorm het teen die roof en vernieling van die Korannas en Basters – en hoe dit toe met hulle gegaan het, soos Eerw. Archbell en die Heer Sephton wel kan getuig. Inderwaarheid het ons in die jaar 1834 in 'n geselskap van 10 manskappe, by name A. en J. Struijs, A. en P. Pienaar, H. en P. van Heerden, A. Duvenage, A. Visasie, P. Cilliers en ek self, 'n kommissietog tot oorkant die Valsrivier onderneem, waartydens ons die landstreek van die Modderrivier tot dig aan die Renosterrivier kon besigtig. Op hierdie tydstip was hierdie landstreek leeg, so te sê sonder inwoners, hier en daar wel met enkele besonder maer en uitgeteerde kaffers wat besig was om van honger te vergaan. Waar ons ook al gekom het, het ek in hierdie tyd geen skaap, bok of bees gesien nie. Dié wat ontkom het aan die assegaai van Silkaats, benewens die Basters en Korannas, ja ook van honger, het aan die lewe gebly deur vanggate by waters te grawe. Ook het ons meer as een keer gesien dat hulle bene en oorskot van oornagse leeu- en hiënavangste na hul krale terugdra, wanneer hulle sien dat die aasvoëls daarop begin neerdaal. Uit medelye het ons baie wild vir hulle geskiet, en 'n groep van hulle het ons dan ook vergesel. Op twee plekke het aaklige tonele ons begroet. By die eerste het ek 'n spruit gesien waar die water die lyke op 'n hoop gespoel het. Die tweede was 'n skeur in 'n krans wat so te sê met mensebeendere opgevul was. Met ons tuiskoms het ons 'n memorandum, deur 72 mans onderteken, aan die Kaapse Goewerneur gestuur met die versoek om daar te gaan woon. Hierdie versoek is egter van die hand gewys.
    • 'n Vrye vertaling van Cilliers se skrywe (Doornkloof, 5 Julie 1864) aan die The Friend-redakteur in reaksie op 'n brief van Sekelo Moshesh aan hierdie Bloemfonteinse koerant (3 Junie 1864), The Friend (16 September 1864). Kyk G.B.A. Gerdener, Boustowwe vir Kerkgeskiedenis (1929), pp. 156-160.
  • In die jaar 1836, as ek dit reg het, het ons onderneem om ons moederland te verlaat, en het dan oor die Oranjerivier getrek. Getuig nou teen ons, of ons met ons deurtog enigiets sonder vergoeding van iemand geneem het. Inteendeel, ons het by elke stam baie koring en mielies geruil vir ons vee, waardeur ons ook u vader Moshesh ryk gemaak het. Ons het tot aan die Vaalrivier getrek, waar Silkaats, die veroweraar van u almal, ook ons mense onverwags oorval het. Hy het 'n goeie deel van ons vermoor en 'n baie groot deel van ons eiendom geroof op daardie tydstip wat ek op die kommissietog na Zoutpansberg was. Toe het ons van daar af teruggekeer na die Renosterrivier, op Vegkop, waar Silkaats ons andermaal aangeval en ook van al ons vee beroof het. Toe ons aldus hulpeloos was, en in groot nood, het nié u vader Moshesh nie, maar wel die Eerw. Heer Archbell met Maroka ons gehelp, waarvoor ek hulle steeds dank. Hulle is ook steeds ons vriende, wat ons tot nou toe geen kwaad aangedoen het nie. Ook het Maroka se volk ons nie beroof nie, terwyl dit wel die geval was dat ons broeders baie onder die roofsug van u vader se volk gelei het. Om terug te keer na my verhaal – ons het van Vegkop af teruggetrek na Maroka se grond. Hy het ons as sy vriende ontvang en ook 'n skenking van koring gemaak vir ons honger vroue en kinders. Hy het van sy volk saamgestuur op die eerste kommando teen Silkaats, ons groot vyand wat insgelyk u vader se vyand was.
    • 'n Vrye vertaling van Cilliers se skrywe (Doornkloof, 5 Julie 1864) aan die The Friend-redakteur in reaksie op 'n brief van Sekelo Moshesh aan hierdie Bloemfonteinse koerant (3 Junie 1864), The Friend (16 September 1864). Kyk G.B.A. Gerdener, Boustowwe vir Kerkgeskiedenis (1929), pp. 156-160.
  • Laat ek u aandag vestig op Moselikatse, toe hy ons al moordende en rowende aanval – het hy voordeel gehad of skade? Kon hy in sy land aanbly of moes hy vlug? Laat ek u aandag vestig op ons onderhandelinge met Dingaan, wat in sy voorkoms die gelyke van 'n skaap was, maar in sy hart 'n verskeurende wolf. Hoe het dit met hom gegaan? Het hy voordeel gehad of skade?
    • 'n Vrye vertaling van Cilliers se skrywe (Doornkloof, 5 Julie 1864) aan die The Friend-redakteur in reaksie op 'n brief van Sekelo Moshesh aan hierdie Bloemfonteinse koerant (3 Junie 1864), The Friend (vervolg, 23 September 1864). Kyk G.B.A. Gerdener, Boustowwe vir Kerkgeskiedenis (1929), p. 159.