Gaan na inhoud

PG du Plessis

Vanuit Wikiquote

PG du Plessis was 'n Afrikaanse skrifsteller.

Uit 120+ Sommerstories

[wysig]
  • “Genis sê dit lyk vir hom die duiwel werk ekstra aan kosters en goed, maar ek sou nie kon sê nie. Al wat ek weet, is dat Satan hier by ons nie laat slap lê nie.”
  • “Ons het op die oomblik nie ’n prokureur op die dorp nie, so dinge gaan redelik eerlik hier.”[1]
  • “Sarie staan toe glo in die deur. Die konstabeltjie wil verbydruk, maar sy stáán. Met dié kom hy toe telkens met haar volheid in aanraking. ’n Fiks man het die probleem, sê Veldsman, dat hy half ’n registrasie vir dié klas van volheid het.”[1]
  • “Freud sou by Fred kon leer, want die vrees uit die horries is dalk die diepste vrees, daar sit soveel selfverwyt en daaglikse neerlaag in die miere, goggas en duiwels wat die horries teen toonbanke, kroegmure en uiteindelik die wit van hospitaalbeddens laat oprys en verbykruip.”[1]
  • “So Jellie lieg oor hy nie van Fred hou nie, want hy’t Fred beledig oor Fred se neef Piet Oosthys sy brak met derms voer en toe’t Fred vir hom gesê sy ma is Engelsgesind.”[1]
  • “’n Gazette is ’n soort koerant, net nog slegter, sê Gawie Frank ons, en hy sal weet, want hy’t van landbougeleerdheid uitgeboer.”[1]
  • “Staak is daar buite die kwessie en vakbonde word nie toegelaat nie. Alhoewel die vakbondsisteem direk vanuit die hel in die ondermaanse aan die gang gehou word, word dit nie in die Verdoemenis geduld nie. Selfs die warmplek sit perke aan pynlike domastrantheid.”[1]

Ander aanhalings

[wysig]
  • "Jy sien, die dood self is niks, dis net ’n afwesigheid. Jy soek nie ’n gekarring nie."[2]
  • "As jy jou agterstewe uit die redakteurstoel lig, verlaat jy nie net ’n stoel, ’n onmoontlike verantwoordelikheid, en jou maandelikse grasie nie. Jy verlaat ’n spesie. Joernaliste en koerantbesture, verspreidingsmense en advertensie-ouens is, net soos die bevolking van die fabriek, subspesies van ’n spesie wat seker so half beskryfbaar is as die koerant-subspesie van homo sapiens – êrens uit die stam van die primate. Maar lig jy daardie agterstewe, dan is dit minstens ’n ryker agterstewe as die een wat jy aanvanklik met meer idealisme as voorkennis in daardie einste stoel kom neersit het. Niemand kan die versamelbak van probleme wees, soveel by besture neul, soveel hande in die lug opgooi, en soveel met ministers en die balju te doen kry, en nie ’n beter mens wees as hy daar uitkom nie. Jy weet meer van dinge ná die tyd, want jy het daagliks gesien hoe die aktuele dinge in die oog van die gemeenskap leef, net om ewe vinnig te verdwyn – dis jou job om van die dinge te weet. Jy weet ook meer van mense: dié wat van hulle goeie naam en hulle publisiteitjie leef; dié wat die openbare lig vrees en dié wat daagliks, sommer êrens voor die noodlot, die geweld, die geheime begeertes van die binnekant, seerkry en seermaak, ondergaan en opstaan, strewe en ontken, sleg is en erken, en so voort. Mettertyd behoort jy tot die subspesie wat dalk té veel kennis het van die donker/ligte aard van die spesie. Jy sien hoe joernaliste dit verwerk: sinisme, te veel drank in Vegkop en Die Hoekie, te veel redelose planne vir die wegbreek, te veel maklike oplossings na vier doppe – so hier en daar gryp een ’n mistiek, ’n bygeloof en ’n geloof aan. Die probleem is: jy kry hulle lief, dié goed wat joernaliste heet. Want in hulle kennis, hulle storie-gejaag, hulle verwerking van die dinge wat hulle beleef, sit daar baie moois van wat menswees is: die sin van die rat race dood toe. En, jy kry ’n vertroue in hulle. Nie in wat hulle weer gaan aanvang nie, maar iets baie dieper: dis boys dié wat jou, as die werklike ellende kom – soos kanker, skandale, bankrotskap en die ouderdom – nie gaan drop nie. Dit is die grootste vertroue wat jy kan hê – om iemand met jou persoonlike magteloosheid, wanneer dit kom, te kan vertrou. Dit glo ek van joernaliste. Dié dat ek lief is vir die spul. Want net hulle oppervlakte is luid, skurf en sinies. Hulle professionele gevoelloosheid is masker. Ek sal ’n joernalis met my lewe vertrou, maar verdomp nie met môre se soberheid nie. Werk dit uit. Dit werk. Want dis ’n lewenswyse gepuur tot die dinge wat regtig saak maak. Al wat ek vra, so by die afskeid. Laat julle kolomme tog sag wees oor my moontlike mislukking en baie luid, tagtig-punt-luid, as daar dalk sukses is. Maar oor mý moet julle nie twyfel nie. Ook nie oor my liefde nie – soos julle my, so sal ek julle nie drop nie. En as ek nie meer verder kan nie, gaan ek julle kom roep om te kom help. Nie die skynheiliges buite in die establishment nie. Julle. En julle kan mý ook maar roep. Want iets van julle dieper lewenswysheid het ek wel opgetel. Vir my opvolger het ek raad. Vertrou joernaliste met jou lewe. Maar nie met jou vrou/meisie/dogter of jou geld nie! Maar met jou lewe wel!"[3]

Oor sy vader

[wysig]
  • "Ons het elke aand gaan stap en hy sou sommer skielik oor ’n karakter uit Dickens begin praat tot hy my so nuuskierig gehad het dat ek die goed self gaan lees het. Hy het my Calvyn laat lees omdat hy moeg was vir al die verd... Calviniste wat Calvyn nie gelees het nie."[3]

Verwysings

[wysig]
  1. ^ a b c d e f 120+ Sommerstories is medisyne vir die Nuwe Suid-Afrika Blues. URL besoek op 2017-06-16.
  2. ^ Huldeblyk aan PG du Plessis (1934–2017) (Doodsberig). LitNet. URL besoek op 2017-06-14.
  3. ^ a b PG du Plessis (1934–2017) (Doodsberig). LitNet. URL besoek op 2017-06-14.

Eksterne skakels

[wysig]