Carl Sagan

Vanuit Wikiquote
Sagan te Cornell-universiteit, ca 1987

Carl Edward Sagan (9 November 1934 – 20 Desember 1996) was ’n Amerikaanse sterrekundige, astrofisikus, kosmoloog en skrywer in sterrekunde en ander natuurwetenskappe. Hy het 'n agnostiese lewensbeskouing gehuldig en het die wettiging van daggaverbruik voorgestaan.

Aanhalings[wysig]

  • Hy [Plato] het geglo dat idees baie meer werklik was as die natuurlike wêreld self. Hy het die sterrekundiges afgeraai om hul tyd met die sterre en planete te verwyl. Dit was beter, het hy geglo, om net daaraan te dink. Plato het vyandigheid teenoor waarneming en eksperimente openbaar. Hy het minagting van die fisiese wêreld geleer benewens minagting van die praktiese toepassing van wetenskaplike kennis. Die volgelinge van Plato het daarin geslaag om die lig van die wetenskap en eksperimente wat deur Demokritos en die ander Ioniërs aangesteek is, te blus.
    • Sagan as skrywer en aanbieder van "The Backbone of Night" (9 November 1980). Cosmos: A Personal Voyage. Aflewering 7. PBS.
  • Ek het 'n premonisie van 'n Amerika in my kinders of kleinkinders se tyd – wanneer die Verenigde State 'n diens- en inligtingsekonomie is; wanneer byna al die sleutel-vervaardigingsbedrywe aan ander lande versaak is; wanneer ontsaglike tegnologiese magte in die hande van net 'n paar mense is, en niemand wat die openbare belang verteenwoordig eers die sleutelkwessies kan begryp nie; wanneer die mense die vermoë verloor het om hul eie agendas te bepaal of om gesagsfigure kundig in twyfel te trek; wanneer ons kristalballe vasklem en ons horoskope senuweeagtig raadpleeg, en ons kritiese vermoëns sodanig verskraal dat ons nie onderskeid kan tref tussen wat goed voel en wat waar is nie, en byna sonder om dit te besef, teruggly in bygeloof en duisternis.
    • Sagan in The Demon-haunted World: Science as a candle in the dark, Hoofstuk 2: Science and Hope, 1995
  • Die intellektuele afskaling van Amerika is duidelikste te sien in die dalende kwota van substantiewe inhoud by die uitermate invloedryke media, die halfminuut-klankgrepe (tans selfs 10 sekondes of minder), programskedulering gemik op die laagste gemene deler, geloofbare aanbiedings van pseudowetenskap en superstisie, maar veral 'n soort viering van onkunde. Tydens my skrywe hiervan is Dumb and Dumber die gewildste videokasset wat jy in Amerika kan huur, terwyl Beavis and Butthead gewild (en invloedryk) bly onder jong TV-kykers. Die duidelike les hierin is dat studie en leersaamheid – nie net wetenskaplik nie, maar van enigiets – vermybaar of selfs ongewens is. Ons het 'n globale beskawing saamgestel waarin die noodsaaklikste elemente – vervoer, kommunikasie en alle ander nywerhede; landbou, medisyne, onderwys, vermaak, omgewingsbeskerming; en selfs die kernbelangrike instelling van demokratiese stemreg – besonder afhanklik is van wetenskap en tegnologie. Ons het dinge ook so gereël dat byna niemand wetenskap en tegnologie verstaan nie en dit is 'n resep vir 'n ramp. Ons kan miskien vir 'n wyle daarmee wegkom, maar vroeër of later gaan hierdie ontvlambare mengsel van onkunde en mag in ons gesigte opblaas.
    • Sagan in The Demon-haunted World: Science as a candle in the dark, Hoofstuk 2: Science and Hope, 1995
  • Vir 'n groot deel van ons verlede was ons so bang vir die buitewêreld met sy onvoorspelbare gevare, dat ons gretig alles omhels het wat belowe het om die bedreigings te versag of te verklaar. ... Ek bekommer my, veral nou met die naderende einde van die millenium, dat pseudowetenskap en bygeloof jaar op jaar aanlokliker sal voorkom – die wekroep van onrede klankryker en aantrekliker. Waar het ons dit al voorheen gehoor? Wanneer ons etniese of nasionale vooroordele gewek word, in tye van tekorte, tydens oproepe tot nasionale selfwaarde of fermheid, wanneer ons ons kwel oor ons verminderde kosmiese plek en doel, of wanneer fanatisme rondom ons opbloei – dan sal gedagtepatrone wat uit die verre verlede stam die beheer probeer oorneem.
    • Sagan in The Demon-haunted World: Science as a candle in the dark, Hoofstuk 2: Science and Hope, 1995
  • 'Spirit' kom van die Latynse woord 'om asem te haal'. Wat ons inasem is lug, wat beslis materie is, hoe dun ook al. Ondanks die alternatiewe gebruik daarvan, is daar niks aan die woord 'spiritueel' wat impliseer dat ons van enigiets anders as materie (insluitend die materie waaruit die brein gemaak is) praat nie, of van enigiets buite die wetenskaplike studieveld nie. By geleentheid sal ek geoorloof voel om hierdie woord te gebruik. Wetenskap is nie net versoenbaar met spiritualiteit nie; dit is 'n diepgaande bron van spiritualiteit. As ons ons plek in 'n uitspansel van ligjare en in die verloop van eons herken, wanneer ons die verwikkeldheid, die skoonheid en teerheid van die lewe waardeer, dan is daardie stygende emosie, daardie gevoel van opgetoënheid en nederigheid tesame, sekerlik spiritueel.
    • Sagan in The Demon-haunted World: Science as a candle in the dark, 1995
  • My gevestigde siening oor die Christendom is dat dit 'n samevoeging van twee skynbaar onverenigbare dele is, die godsdiens van Jesus en die godsdiens van Paulus. Thomas Jefferson het probeer om die Pauliniese dele uit die Nuwe Testament te ban. Daar was nie veel oor toe hy klaar was nie, maar dit was 'n inspirerende dokument.
  • 'n Ateïs is iemand wat seker is dat God nie bestaan nie; iemand wat oor afdoende bewys teen die bestaan van God beskik. Ek weet nie van so 'n afdoende bewys nie. Aangesien God na vervloeë tye en afgeleë plekke en na die konsekwensiële oorsake teruggevoer kan word, sal ons baie meer as tans omtrent die heelal moet weet voordat ons seker kan wees dat daar geen so 'n God bestaan nie. Om seker te wees van die bestaan van God óf om seker te wees van die absensie van God, lyk vir my na die oortuigde uiterstes van 'n onderwerp wat sodanig van twyfel en onsekerheid deurspek is, dat dit inderdaad baie min vertroue kan inboesem.
    • Sagan aangehaal in Conversations with Carl Sagan, Tom Head, red. (2006). Jackson, MS: University Press of Mississippi. ISBN 978-1-57806-736-7
  • Die gewaarwording van die wêreld soos dit in werklikheid is, kan jou tot raserny dryf; dagga het vir my 'n aanvoeling gegee van hoe dit is om mal te wees, en hoe ons daardie woord 'mal' aanwend om nadenke oor sake wat vir ons te pynlik is, te systap. In die Sowjetunie word politieke andersdenkendes gereeld in gestigte vir waansinniges geplaas. Dieselfde tipe ding, miskien iewat subtieler, vind hier by ons plaas: 'het jy gehoor wat Lenny Bruce gister gesê het? Hy is seker mal.' Toe ek hoog op dagga was, het ek besef dat daar iemand binne daardie mense is wat ons mal noem.
  • Wanneer ek hoog op dagga is word die verlede meer toeganklik, en kan ek aspekte van my kinderjare, vriendekring, familie, speelgoed, strate, geure, geluide en smake uit daardie vergange tyd in herinnering roep. Ek kan werklike gebeure van my kinderjare rekonstrueer wat indertyd net deels verstaanbaar was. In etlike, alhoewel nie in al my daggabelewenisse nie, word daar iewers in 'n simboliek vervat wat vir my belangrik is, maar wat ek nie hier sal probeer beskryf nie. Dis 'n soort mandala wat op die belewenis afgeëts is. Die vrye omgang met hierdie mandala, visueel sowel as spreekwoordelik, het 'n baie ryk verskeidenheid van insigte opgelewer.
  • Die daggabelewenis het my waardering vir kuns grootliks verbeter, 'n onderwerp waaraan ek voorheen geen besondere waarde geheg het nie. Die insig in die intensie van die kunstenaar waartoe ek in staat is wanneer ek hoog is, bly soms behoue wanneer ek weer nugter is. Dit is een van etlike menslike perke wat dagga my gehelp het om te oorskry... 'n Soortgelyke verbetering in my waardering vir musiek het met dagga plaasgevind. Vir die eerste keer kon ek die afsonderlike dele van 'n drieledige harmonie en die rykdom van kontrapunt hoor. Ek het sedertdien ontdek dat professionele musikante etlike afsonderlike dele met gemak in hul koppe kan afspeel, maar vir my was dit 'n eerste keer.